Die skool het Donderdag, 8 Augustus, in die vierkant ‘n huldeblyk gedoen aan dr. Daan Vorster wat die vorige dag oorlede is.

Daar is ’n leemte in die skool vanoggend. ’n Plekkie wat nooit weer gevul sal word nie. Dok het baie diep spore getrap in die skool en sy leerders se harte. Nie net almal wat vandag hier staan nie maar al die leerders van jare voor ons. Hy was op ’n vreemde manier die rots van die skool. Almal het hom geken en almal het van hom gehou, hy was ’n goeie man. Hy was ’n opregte man, pa en mentor vir ons almal in hart en in siel. Dit is waar dat ’n reuse- ou Geelhoutboom, geval het.

Hy was altyd vriendelik en bereid om jou te help met enigiets waarmee jy hulp nodig gehad het. Hy was iemand met wie jy kon gaan praat en vra vir raad of jy nou stout was of nie. Hy was nie net deel van die skool soos wat die bakstene wat hom gebou het, is nie, hy is steeds deel van die skool en sal altyd wees. Dit is vir ons ’n groot seer in ons harte om iemand so na aan ons almal en die skool te verloor. Daar is ’n gesegde, “gone but not forgotten”. Dok sal altyd in ons almal se harte woon, en sy spore in die skool sal bly staan vir geslagte op geslagte om waar te neem.

Die volgende is die woorde van twee van ons graad 11-leerders wat baie naby was aan dok:

“Ek as ’n leerder van HTS John Vorster staan vandag hier as ’n seun wat ’n stuk van sy hart en skool verloor het. Dok was ’n pa en ’n vriend gewees in baie van ons lewens, iemand met wie jy als kan deel vir al die rokers en moeilikheid makers. Ons onthou dat Dok altyd ’n liefhebber van Voyager groen sigarette was. Daai is ’n reuk wat ons sal mis saam met Dok se glimlag en sin vir humor.”

“Dok was ’n baie reguit en eerlike persoon, hy was my tweede pa en om iemand soos my pa te verloor breek my hart, hy was daar vir my toe ek iemand nodig gehad het. Dok het nooit ’n probleem gehad om te help nie, om te dink dat toekomstige JV-leerders nie vir Dok sal kan ken nie is ‘n groot verlies. Ons as leerders van HTS John Vorster sal nooit vir Dok vergeet nie. “

Ons groet vandag ’n merkwaardige persoon. Dok, tot ons weer ontmoet. Mag die Here u gesin in die tyd dra en vertroos en weet dat elke JV aan hulle dink en vir hulle sal bid.