SWEM

Mev Annelize du Rand

Mev Annelize du Rand

Swemkoördineerder

sport@htsjv.co.za

012 322 1760/1/2

HTS John Vorster het altyd op ‘n informele wyse aan swem deelgeneem.  Gedurende 1990 was daar groot belangstelling in die sportsoort.  Onder leiding van Mev. Helma van Rooyen, is daar  ‘n amptelike span gestig wat aan die F-liga deelgeneem het.  Met verloop van tyd is daar later twee spanne gevorm, wat onderskeidelik aan die B-en C-ligas deelgeneem het.  Van daar af het swem van krag tot krag gegaan tot waar ons vandag is.

 

Tans strek die Swemseisoen vanaf begin September tot einde Februarie.  Die JV-Bullsharks, soos hulle bekend staan,  neem deel in die C-liga vir hoërskole.  Die span se sukses word gebou op harde werk, toewyding en ongelooflike spangees.

 

Alhoewel daar nie ‘n swembad op die JVs se skoolgronde is nie, laat ons ons nie daardeur onderkry nie.  Die swemmers oefen by die Tjaart van Vuuren Munisipale Swembad in Hertzogstraat, sowat drie blokke vanaf die skool.  Die swembad bied aan die swemmers die geleentheid om in ‘n 50m swembad te oefen en sodoende 100% voorbereid te wees vir galas en vir Interhoër.

 

JVs was bevoorreg om gedurende 2017, die gasheerskool te wees van die Interhoërgala wat jaarliks by Hillcrest Swembad aangebied word.  Gedurende die byeenkoms het die JVs in ‘n derde plek geeïndig.  Die O/14-span het in altwee die aflositems, ‘n eerste plek verower.  Liam Olivier was soos ‘n vis in die water en het in die 50 m borsslag en vlinderslag nuwe rekords opgestel.

 

Die span word afgerig deur Mev. Ida van Wyk, wat vele jare ondervinding in swem het en ook haar eie swemskool besit.  Swemoefeninge vind in September en Oktober plaas op Maandae en Donderdae.  Vanaf Januarie oefen die swemmers Maandae tot Woensdae en neem op Donderdae aan galas deel.

 

Leerders hoef nie reeds ‘n uitstekende swemmer te wees om by die swemspan aan te sluit nie, aangesien daar ook by oefeninge gefokus word op die ontwikkeling van nuwe swemmers.